View this page in
English

Michelle is op 15 November in die Jakaranda stad, Pretoria, gebore. Sy bring egter haar kinderjare deur op Secunda in Mpumalanga en matrikuleer aan Hoërskool Secunda in 2000. Gedurende haar laer- en hoërskool loopbaan neem sy aan verskeie opperettes, revues en allerlei konserte deel vanwaar sy haar liefde en passie vir musiek en die kunste ontdek. Michelle geniet ook vanaf ‘n vroeë ouderdom modelwerk en spandeer heelwat tyd aan modeparades en palm selfs ‘n paar skoonheidstitels in. Op die ouderdom van sestien besluit sy om haarself toe te spits op ‘n sangloopbaan en begin met formele sangopleiding.

In 2001 gaan studeer Michelle B.Mus (Uitvoerende Kuns) aan die Universiteit van Pretoria. Gedurende haar studiejare ontvang sy meestersklasse vanaf verskeie welbekende kunstenaars, o.a. Mimi Coertse, Kobie van Rensburg, Svein Bjørkøy, Cladio Danuse en Szusa Alföndi. In 2003 sing sy die rol van Bastienne in die opera “Bastien und Bastienne” deur Mozart onder leiding van Prof. Eric Rycroft met regie deur Mimi Coertse.

In 2004 pak die Musiekdepartement ‘n groter projek aan en sing Michelle die rol van Pamina in die opera “Der Zauberflöte” deur Mozart, weer onder leiding van Prof. Eric Rycroft met regie deur Dr. Mart Munrou.

Gedurende haar studiejare ontvang Michelle haar sangonderrig van Me. Ina Snyman en Prof. Werner Nel. Sy kry in hierdie tyd die geleentheid om die verhoog te deel met gevestigde kunstenaars van nie net die klassieke genre nie, maar ook in die ligtemusiek bedryf, o.a. Dewald van Solms, Hanelli Stapela, Liz Lombaardt en die gesogte sanger, André Schwartz. Sy behaal haar B.Mus (Uitvoerende Kuns) graad in 2004. In 2005 sit Michelle vyf maande eenkant om aan die musiekblyspel “The Sound of Music” deel te neem. Sy speel die rol van ‘n non en saam met die res van die geselskap vul hul vir drie maande die Sandt du Plessis en Staatsteater se auditoriums. Dit is in hierdie tyd wat Michelle besluit dat sy reg is om haar debut album “To Be Real” op te neem. Saam met ‘n gedugte span werk hulle aan nege oorspronklike liedjies in die klassieke-pop genre met groot orkestrale begeleiding. In Oktober 2006, stel Michelle haar album bekend tydens ‘n gala geleentheid in Emperors Palace se “Theatre of Marcellus”. Met ‘n vooraf opgeneemde sprokiesverhaal in DVD formaat word die vertoning saamgebind, en is “To Be Real” ‘n asemrowende produksie wat die gehoor vir sestig minute van al hul sorge en bekommernisse laat vergeet.

In 2007 word Michelle as ‘n nuwe lid in die Music Profile produksie “Fantastic 4” aanvaar. Saam met Pieter Koen, Danie Niehaus en Irene van Wyk, toer hulle Suid-Afrika en omliggende lande plat met oorspronklike- en nuwe materiaal. Later die jaar deel sy die verhoog met menigte groot sangers by die “6de Afrikaanse Klipdrif Musiekfees” en in Oktober van dieselfde jaar tree sy in duet op saam met Gerrie Pretorius te Carnival City in die “Big Top Arena”, met sy DVD opname “Ek sing vir jou Bles”

2008 was ‘n jaar vol opwinding, pret en plesier. Michelle word die geleentheid gebied om haar debuut Afrikaanse album by Maroela musiek op te neem. In Oktober vertolk sy ‘n klein rolletjie in 7de Laan en speel die rol van Estie waar sy vir arme Marko diep in die moeilikeheid in verlei. Die vertoning “Legends of the Sun” behaal groot sukses in verskeie casinos in die Gauteng area. In 2009 besluit Michelle om verder te studeer. Hierdie keer is die doelstelling ‘n graad in Joernalistiek.

Michelle is ‘n passievolle kunstenaar wat haar nie net toespits op die tegniese aspekte van musiek nie maar ook op die interpretasie van haar werk. In 2008 skryf sy haar eerste Afrikaanse liedjies wat beloof om luistermusiek liefhebbers se harte aan te raak.


 

          

 

   

Copyright © 2008, Michelle Van Staden -
www.michellevanstaden.com